images/stories/slider/1.jpg
images/stories/slider/2.jpg
images/stories/slider/3.jpg
Latest
Jy’s nie dalk dáái meisietjie nie? PDF Print E-mail

Haar Porsche uit die tagtigerjare “is te laag” om die klippe van die parkeerterrein voor die Harbour House-restaurant in Kalkbaai te trotseer, daarom wag sy sommer langs die pad naby haar huis in Muizenberg. Van ver af waai sy al. “Ek het nie geweet jy laai girls langs die straat op nie,” spot sy.

 

Jaconell Mouton is die nuwe musiekregisseur van Noot vir noot, die program wat die langste hier op die televisie is: ’n volle 21 jaar. Op net 33 neem sy oor by Johan van Rensburg, wat met die reeks wat tans op SABC2 te sien is, ná 558 episodes uittree. Die eerste reeks met Jaconell as leier van die Musiekfabriek- orkes word in Julie opgeneem en aan die einde van die jaar uitgesaai.

 

Haar kuif is regop gejel en sy het haar standaarduitrusting aan: ’n paar ingeleefde jeans, wit T-hemp en Adidas-tekkies. In teenstelling met dié informele voorkoms lyk sy professioneel gegrimeer, soos om te pas by ’n aandrok. “Maar daarvan het ek net een,” sê sy laggend.Dit is dié rok wat sy onlangs as pianis gedra het in 20 Hande, 1 Hart, ’n geleentheid wat ten bate van die pianis en liedjieskrywer Christa Steyn se kankerbehandeling op die Puk-kampus gehou is. “Musikante is soos familie wat vir mekaar sal veg,” vertel sy. Soos onlangs weer duidelik was toe hulle hul arms gevou het om die sangeres Lize Beekman ná haar lewensmaat se selfmoord. Van heinde en verre het musikante, ook Jaconell, na Steynsrus gestroom vir die roudiens van die violis Annake de Villiers.

 

Jaconell speel sedert 2003 klawerbord op Noot vir noot en is ook agtergrondsanger in die program. Daarby was sy klawerbordspeler vir Idols en musiekregisseur van verskeie teater-produksies. Sy is gewoond daaraan om saam met groot name te werk: Op Stef Bos se DVD Rooi aarde swart bloed het sy saksofoon, klavier en klawerbord gespeel. Herman van Veen, nog ’n Nederlandse kabaretster, het haar uitgesoek as pianis vir sy vertoning Op een dag in September wat in 2009 in België, Holland en Duitsland getoer het.

 

“Van Veen het my geleer om die verhoog te eien. Hy stap op asof hy weet hy gaan ’n staande ovasie kry.”

 

Op pad na die restaurant vertel Jaconell sy hou van alle musiekgenres, “maar sal nie sommer ’n boeremusiek-CD koop nie”. Jazz is ’n gunsteling “omdat jy note by ’n akkoord kan voeg en dit só heel anders kan laat klink”, maar oor die jazz wat in die motor speel, lewer sy eerder nie kommentaar nie...

 

Sy verwissel gemaklik van genre en skaar haar nie soos soveel ander musikante slegs aan een kant van die hoofstroom/alternatief-spektrum nie. By haar is daar geen teken van snobisme of elitisme nie. “Dis soos ’n cordon bleu-sjef wat gewone kos tuis maak en dit nét so geniet. ’n Mens kry in elk geval net twee soorte musiek: goed en swak.”

 

Van Rensburg het haar deur die jare baie geleer, vertel sy. “Keep it simple,” sê hy graag. Noot vir noot se musiek moet herkenbaar wees. “Dit kan maar funky wees, maar kykers wil nie ongewone verwerkings hoor nie. Dis ’n vermaaklikheidsprogram, nie ’n musiekprogram nie.”

 

Buiten dat sy fyn moet kan luister en melodieë moet kan interpreteer, help dit as jy moeilike situasies kan ontlont, vertel sy. “Soms wil ’n musikant wat gewoond is aan solowerk op ’n spesifieke manier speel, dan moet ek hom oortuig om my te vertrou.”

 

Dit geld ook ateljeewerk. Jaconell het as musiekregisseur van ’n album gedebuteer met Coenie de Villiers se Hart van glas, wat onlangs vir ’n Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (Sama) benoem is. Tydens die maak daarvan het sy in die ateljee soos ’n woer-woer tussen klavier en klanktegnikus gehardloop. “Die ateljee en die orkes, hierdie keer was dit ’n simfonie-orkes, word net vir ’n sekere tyd bespreek, ’n mens werk dus teen tyd,” verduidelik sy.

 

Die gelyknamige verhoog- produksie is volgende maand op die Bloemfontein Vryfees te sien, en Jaconell is nie net musiek- regisseur nie, maar ook klawerbord- en klavier-speler. Sy sing ook. “Sy het immers perfect pitch,” sê Coenie. ...

 

Jaconell wou kleintyd eintlik ’n renjaer word, maar voor sy kon loop, sit sy toe reeds met ’n kasset onder die arm styf teen die radio en wieg op maat van die musiek, vertel haar ma, Ronell.  Op vier het sy die klavier op gehoor begin speel, op agt het sy geleer musiek lees, op 12 klavierlesse aan die Universiteit Stellenbosch geneem en op 15 die saksofoon begin bemeester. Ná skool, eers in Citrusdal en toe aan die Hoërskool Stellenbosch, het sy ligte musiek, “dit was eintlik jazz”, deur die Pretoria Technikon (nou Tshwane Universiteit van Tegnologie) gestudeer. Haar eerste openbare optrede as sanger, klawerbord- en saksofoonspeler was saam met die gospelsanger Louis Brittz. Omdat die gospelbedryf egter “klein en geslote” is, het sy die geleentheid daarna aangegryp om vir Mel Botes klawerbord te speel vir Klankgrens op kykNET.

 

Die mees betekenisvolle musiekfiguur met wie sy ooit saamgewerk het, was egter die gebore Brit Jeremy Lubbock (80), ’n komponis, verwerker en liedjieskrywer wat al drie Amerikaanse Grammy-pryse gewen het, sê sy. Hy het al gewerk saam met sangers soos Michael Jackson, Sting, Madonna en Elton John, en reken Jaconell “se werk is wêreldklas”. Die twee deel ’n ateljee in Muizenberg en besit saam die maatskappy, J&J Music. Elkeen het sy eie projekte, maar het al saam musiek geskryf vir ’n Amerikaanse rolprent wat daar versprei is (die naam ontgaan haar). Jaconell het ook “ ’n rekenaarhandjie bygesit” toe Lubbock gewerk het aan ’n Josh Groban- album wat nog moet verskyn. En onlangs het sy musiek wat Lubbock vir die Amerikaanse sanger-liriekskrywer Paula Cole gekomponeer het, neergeskryf. Die veelsydige blondine het Lubbock leer ken nadat sy gewonder het wie die liedjie “Emmanuel” so pragtig op ’n album van die Amerikaanse trompetspeler en komponis Chris Botti verwerk het. Dit was Lubbock, het sy uitgevind, en hy was aan die immigreer na Suid-Afrika. Jaconell het hom op die internet opgespoor en hulle het e-posse oor en weer gestuur. Later het ’n ontmoeting van vyf uur gevolg. “Ons het nie net oor musiek gesels nie, maar ook oor ons gedeelde liefde vir argitektuur.” Sielsgenote, het hulle besef. Deur Lubbock het sy al verskeie groot name ontmoet, waaronder die Amerikaanse jazz- kitaarspeler Lee Ritenour. “Ek wou op my knieë neersak voor hom, hy is al jare my hero.” Asof sy nie besig genoeg is nie, het dié woer-woer ook haar eie groep, Quantum, wat jazzerige musiek maak. Die bekende baskitaarspeler Denny Lalouette is een van die orkeslede.

 

Wanneer Jaconell ontspan, neem sy foto’s, sit in haar Zen-tuin of skubaduik. “Ek verwonder my aan die stilte onder die see. Al wat jy hoor is jou eie asem en soms die vissies wat knibbel. Niemand kan jou pla nie.” En wanneer haar energie die dag ’n bietjie taan, kom die piromaan in haar uit, spot sy. Dié musikale vrou maak self vuur, nie noodwendig vir braai nie, “maar om na die vlamme te staar en my innerlike vrede en energie terug te kry.”

 

Noudat Johan van Rensburg Noot vir noot ná dekades vaarwel wuif, is Jaconell bestem om een van die gewildste gesigte op die televisie te word. Seker dié dat sy reeds deesdae op straat gevra word: “Jy’s nie dalk daai meisietjie van Noot vir noot nie?” Note in ’n neutedop Johan van Rensburg en Johan Stemmet het op 1 Julie 1980 by die SAUK begin werk en in 1989 weggebreek om Stemmburg Televisie te stig. Die twee het Noot vir noot saam in 1991 ontwikkel, en Van Rensburg het die kenwysie geskryf. Die eerste gaskunstenaar wat in die program opgetree het, was Anneli van Rooyen. Sedertdien het meer as 400 genooide kunstenaars opgetree. Daar is ’n drie jaar lange waglys vir lede van die publiek wat in die gehoor wil sit. Hoewel kykers Stemmet steeds met die dra van sy kenmerkende onderbaadjies verbind, het hy slegs in sewe reekse onderbaadjies gedra. Een van dié baadjies is later vir R9 000 opgeveil.

Spyskaart Harbour House, Kalkbaai

Kaliforniese soesjirolletjies R50

Koningklip R155

Robertson Chardonnay x 2 R44

Paradyskloof Chardonnay x 1

R33 Fooitjie R28 Totaal: R310

Die Burger 2012-06-02 06:13

 
Jaconell Online... PDF Print E-mail

Watch this space to learn more about South Africa's favourite keyboard player...

 


 
 

Calender

There are currently no events to display.

Who's Online

We have 27 guests online

Your thoughts...

Who's your favourite artist
 
All rights reserved PC 2012  |  Jaconell Mouton  |  Designed by Design4u