images/stories/slider/1.jpg
images/stories/slider/2.jpg
images/stories/slider/3.jpg
Projects
Hart van glas, Coenie de Villers PDF Print E-mail

 I recently produced the new Coenie de Villiers album titled "Hart van Glas".  It was launched in October 2011.

Here are some of the reviews or articles about the album.

 

 

DIE BURGER, 14 Oktober 2011, deur Riette Rust


‘Ek skuifel nie meer in Pa se skoene rond nie’

2011-10-14 21:59



Dis nie enige liriekskrywer wat Michelangelo se skepping van Adam op die plafon van die Sikstynse Kapel in Rome só kan besing nie: 


En in die middel, daar reik God 

Sy vinger na die mensdom uit

Na Adam, wat nou skaam en naak,

skugter uit sy slaap ontwaak

Die Skepper blaas ná eeue

steeds lewe in dié man,

wat namens ons wat opkyk

Sy asem blý ontvang.


Maar Coenie de Villiers kan.


Die sanger is vandeesmaand by Huisgenoot se Skouspel vereer vir sy lewenslange bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek – dis vanjaar sy 35ste jaar in die musiekbedryf en sy 19de album, Hart van Glas, is pas uitgereik. 


Al noem Coenie homself spottend ’n “verswakte bejaarde”, is die album ’n bewys dat hy kán vernuwe, sê musiekkenners. Dis immers een van die min kere in Suid-Afrika dat ’n simfonie-orkes in ’n ateljee saam met ’n sanger optree en ’n liedjie (“Ná soveel jaar”) net daar – sonder rekenaars of ’n metronoombaan wat tyd hou – opgeneem word, die sanger se stem en die musiek gelyk. 


Dit is die dag van die opname by Milestone Studios in Kaapstad en die mengbank lyk soos drie vliegtuie se instrumentepanele. Elkeen van die knoppies het ’n doel – om hierdie noot ’n bietjie skerper te maak, om daardie stem beter te laat uitfaseer. 

Tot nou toe was Coenie kalm, want hy is in goeie hande. Dis Jaconell Mouton van Noot vir Noot- en Idols-faam se debuutalbum as musikale regisseur. 


“Ek is gelukkig om daardie wonderlike debuutvibrasie te kry wat net ’n mens se eerste werk kan hê,” sê Coenie. Daarby begelei “Jakkie” hom op klawerbord en klavier. Sy hoor klanke wat die ongeoefende oor sal mis. Wanneer Coenie sê “a bit op imperfection makes for a wonderful Persian carpet,” vra Jaconell dat ’n noot of twee oor gespeel of gesing moet word. 


Vir die Britte en Amerikaners in die ateljee vertaal Coenie sy liedjies sommer net daar in Engels. Seepglad; klink of hy dit aflees. 


Die strykers kom ingestap. Dis tjello’s, viole en basviole net waar jy kyk. Baie van die musikante het deurmekaar hare, van die vroue dra tjalies. Coenie, daarenteen, het ’n blou LTD-hemp aan, ’n mens sien jou weerkaatsing in sy swart skoene en hy ruik na cologne. 


Hy haal gespanne asem, vryf sy hande. “I can’t do this,” sê hy en word rooi in die gesig.


“Barbra Streisand is ook gespanne voor ’n opname,” troos Jeremy Lubbock, die Brits-gebore vervaardiger-musiekskrywer wie se werk al drie Grammy’s ingepalm het. “Dolly Parton het vooraf ’n brandewyn genuttig om háár senuwees te kalmeer.”

“En dis veronderstel om my te laat beter voel?” vra Coenie.


Buiten vir Streisand en Parton, het Jeremy al gewerk aan albums van groot name soos Michael Jackson, Sting, Madonna en Elton John. Hy het in die Kaap kom “aftree,” maar saam met Jaconell (“Jackie”, noem hy haar) die musiekmaatskappy J&J Manufacturing begin. 


“Met my ervaring kan ek redelik uitsoekerig wees met wie ek wil saamwerk, maar Jackie se werk is wêreldklas,” sê Jeremy. Hy is verantwoordelik vir die strykverwerkings van baie van die liedjies op Hart van Glas en het ook die musiek geskryf vir “Ná soveel jaar” wat vandag opgeneem word.


“Dit is die moeilikste ding wat ek musiekgewys sal moet doen...” sê Coenie. Jeremy skryf sulke lang frases, verduidelik hy. “Ek sukkel daarmee, want wat sang betref, sit ek nie eens op die bank van die vyfde span nie! Ek’s eerstens ’n liriekskrywer. I perform by default.”


Daarby moes die sanger die eerste keer lirieke ná die musiek skryf.


Vandag is Lubbock die dirigent van die simfonie-orkes. Die atmosfeer is gespanne, maar vol afwagting. Coenie kry “ ’n paniekaanval” (so noem hy dit later) en Jeremy neem hom buitentoe. Daar sê hy: “Coenie, listen to me, you can do this!”

Met die terugkeer, vryf die sanger sy hande saam en maak keel skoon. Jeremy praat agter die ateljee se glasvenster met die orkes. ’n Mens hoor hulle lag. Later sê hy: “Musikante moet note oor en oor speel, maar as dirigent is dit my taak om hulle te laat wíl speel.”


Die orkes oefen die liedjie. Terwyl hy dirigeer, word Jeremy se 79-jarige lyf soepel soos dié van ’n jongman. 


Coenie het dié liedjie ná 31 jaar van getroud wees met Ria vir haar geskryf. (Ria het ’n doktorsgraad in linguïstiek en is ’n opleidingsdeskundige.) 


“Ek hoop hierdie song word baie pare se huweliksherdenkingsliedjie. Jy weet, die man wat ’n kers aansteek en dit vir sy vrou speel,” sê Coenie. 


Die klankingenieur, Murray Anderson, beduie duim in die lug hy’s gereed. ’n Mens is te bang om asem te haal. Dan verbeel jy jou die strykers het binne ’n oogwink hul swart klere aangetrek, want nou word die simfoniese note hártsmusiek, veral wanneer dit saam met Coenie se woorde die klein ateljee vul: 


Ná soveel jaar is jy nog mooi

Al is daar plooitjies om jou oë

en het die tyd sy fynste spore 

op jou lyf kom laat 


Die laaste noot hang vir ’n oomblik in die lug. Dan word die kollektiewe asemophou ’n gejil, ’n gehandeklap. 


“Magic, magic!” sê Jeremy. “Coenie, dit het geklink of jy dit al jou lewe lank doen!” Ná ’n halfdag se opnames – een van die album se vele in ses ateljees in Johannesburg, Pretoria en Kaapstad – verdaag die orkes. Die res sit kruisbeen op die vloer en eet hamburgers wat Coenie gaan koop het.


Jeremy sit agteroor op ’n beknopte bank – rugseer. “Met hierdie album doen Coenie iets heeltemal anders as wat enigiemand nog in hierdie land gedoen het,” fluister hy. “Hy is ’n sensitiewe musikant, ’n ongelooflike digter wat lirieke skryf oor van kuns tot by hout. Hy is soos Frank Sinatra, hy doen dinge teen die vloei van die musiekbedryf in – sonder ’n platemaatskappy, nes hý daarin glo.” 


“You wouldn’t perhaps like a massage?” vra Coenie later. En sowaar, ’n skoonheidskundige met ’n wit mat daag op om Jeremy se rugpyn te verdryf. “My gift to you,” sê Coenie.


Die musiek op Hart van Glas is klassiek, jazzerig met ’n klein bietjie rock. “Vir die eerste keer voel dit asof ek nie meer in my pa se skoene skuifel nie. Dis volwasse, dis wat ek nou moes doen,” sê Coenie, wie se laaste drie solo-albums, Weerlig oor die See,Handgemaak en Zen, al drie met Suid-Afrikaanse Musiek- toekennings (Sama’s) bekroon is. 


“Hart van glas” is die titelsnit, maar die harttema duik ook op in liedjies soos “Camera obscura” en “Wonder bo wonder”. 


“Die hart is maar die setel van alles wat saak maak,” sê hy.


Buiten tema’s soos liefde, reis, kuns en oorlog, skryf hy eerlik oor ouerskap – iets wat hy nie kon doen toe hy jonger was nie: 


Want ek loop in my pa se skoene,

ek loop in my pa se jas.

Ek weet ná soveel jare

’n pa het ’n hart van glas.


“Ek besef al meer wat my tekortkominge as pa is en hoop om daaraan te herstel. Ek probeer hard. Ek is oneindig dankbaar dat ek weet waar my kinders is en dat dit met al drie goed gaan,” sê hy. 


Saam met ouer word, kom ook broosheid. Hieraan is hy onlangs herinner: Die gevoel in sy klavierspelende hande het begin doodgaan en hy het erg pyn in sy regterarm gehad het. ’n Operasie was nodig. 


“Ek was seker dat ek sou sterf. Ek het selfs vooraf my testament laat oordoen.”


Drie van sy nekwerwels is aan mekaar geheg en daarvoor is sy keel letterlik oopgesny. Die mes is net-net verby sy stembande gestuur en sy grootste vrees was dat hy sy stem kon verloor. En daar, op die tafel, hét hy erg begin bloei. 

Hoewel hy vandag steeds nie die gevoel in al sy vingers terug het nie en nog soms pyn het, “gaan die lewe aan”.


Onlangs is melanoomkanker ook by hom gediagnoseer, maar dit is gelukkig betyds volledig verwyder. 


Maklik was dit nie en Coenie het selfs droog opgemerk dat hy en die musikante Lucas Maree, sy beste vriend wat aan kanker oorlede is, en Christa Steyn, wat tans ’n stryd teen kanker voer, saam wonderlike musiek “Daarbo” sal maak. 

Lucas se dood was vir hom “ingrypend”. Hy’t immers sy “broer” verloor. Coenie sê hy dink dis hoekom hy al sy eie “nonsens” laat staan het en “vrede gemaak het met ’n klomp dinge. Ek’s nou geestelik op ’n baie goeie plek.”

Maar hy verlang elke dag na Lucas. Terwyl sy vriend sterwend in die hospitaal was, het hy daagliks vir hom Oscar Wilde se feëverhale gaan lees. 


“Ons was elke keer aan die huil. Lucas het tog so lekker kon huil en lag. Dit was wonderlike oomblikke van vriendskap en ek is ewig dankbaar daarvoor.”


Lucas lag juis op die nuwe album.


In dié tyd het Coenie die liedjie “Vir Lucas” geskryf – onder meer oor hul sterrekykervaringe saam. Hy het dit vir Lucas gelees: 


Jou droomvrou is ’n tweeling hier

en jou weduwee bly ryk.

Hier skink sy reeds vir eeue

uit haar bodemlose kruik. 


“Lucas het, soos altyd, met oorgawe gehuil,” onthou Coenie. 


Maar die opname van die lied eindig met Lucas se lag, die enigste sonder agtergrondlawaai wat Coenie uit ’n TV-onderhoud kon opspoor.


’n Ander liedjie wat hom na aan die hart lê, is “Die tjellis van Sarajevo”. 


Die tjellis Vedran Smajlovic het tydens die beleg van Sarajevo (1992-1996 in Bosnië-Herzegovina) gereeld sy tjello in beskadigde geboue gespeel. ’n Kanadese skrywer, Steven Galloway, het hom as inspirasie gebruik vir sy roman The Cellist of Sarajevo. 


Dié roman vertel hoe die tjellis sy lewe gewaag het deur 22 dae lank tussen die ruïnes te speel om só die 22 mense te vereer wat deur ’n bom gedood is. Terwyl die tjellis Albinoni se “Adagio in G-mineur” gespeel het, het die oorlog rondom hom glo voortgeduur. 


As die rook en stof verdwyn

lê twee-en-twintig mense dood

en hul enigste oortreding

was om te wag op bietjie brood.


Coenie sê dié geskiedenis “wys wat musiek alles kan doen. Dit kan selfs grofgeskud laat verstil. Musiek is inderdaad groter as kanonne en note korrel fyner as skerpskutters.” 


Die oorlogtema kom ook voor in ’n nuwe verwerking van “Hier by my”, een van sy bekendste liedjies. “Ons dra nog swaar aan die herinnering van die grensoorlog,” sê Coenie. “As jy (soos hy) daar was, moet dit op ’n manier uit jou gestel kom.” 

’n Ander hoogtepunt is die Amerikaner Dave Koz se saksofoonklanke op “Die lied van hout”. Koz het ses Grammy-nominasies en ’n ster op die Hollywood Walk of Fame op sy kerfstok. Hy tree gereeld op die Kaapstadse Internasionale Jazzfees op en het intussen Coenie se vriend geword. 


Hulle het vele ooreenkomste – albei verklaar, onwetend van mekaar: “Ek raak so gou verveeld.” Albei het kommunikasie-grade, is of was radio-aanbieders en is betrokke by liefdadigheid, Coenie as beskermheer van die Middestad Evangelisasie Sending. Dié organisasie sien om na hawelose mense en straat-kinders. Koz, weer, is die wêreldwye ambassadeur van die Starlight Children’s Foundation, ’n organisasie wat kinders met chroniese siektes help. 


Koz het voorheen op Weerlig oor die See gespeel, maar vir die nuwe album is hy sélf in die Kaap. Die span maak gereed vir minstens twee uur se werk, maar Koz gaan staan voor die mikrofoon, sit sy saksofoon voor sy mond en speel die nommer regdeur. One take Koz. 


Koz praat van Coenie as sy “broer”. ’n E-pos van Koz uit Hollywood lui: “Ons is nie net musikale kindred spirits nie, Coenie het my meer geleer oor Suid- Afrika (waarop hy so trots is) as enig- iemand anders. Hy is boonop een van die mees vrygewige, bedagsame en sensitiewe mense wat ek al leer ken het. Dit kom alles in sy musiek uit. Die beelde vloei uit sy kop en dan deur sy stem op ’n suiwer, ongefiltreerde manier. Hy is ’n digter. Ek praat nie eens ’n woord Afrikaans nie, maar ek voel elke woord wat hy sing. Dit is die teken van ’n ware gawe... Buiten vir Coenie se reusagtige musikale bydrae, gee hy vir die wêreld ’n daaglikse dosis liefde en vreugde. Hy is die juiste voorbeeld van die kuns van leef.”


Nóg ’n onvergeetlike oomblik was die dag in Undahaus, ’n Johannesburgse ateljee, vertel Coenie. “Ek het om my gekyk en daar staan drie gróót name: Jeremy Lubbock, Amanda Strydom en Sibongile Khumalo. Ek moes myself knyp.” 

Hulle was daar vir die opname van die wiegeliedjie “Thula”. Sibongile, wat ook al vir Oprah Winfrey gesing het, sing die tradisionele liedjie “Thula Baba” as koorgedeelte. 


Wanneer jy na haar luister, dink jy onwillekeurig aan die apartheidsdae toe Coenie, teen politieke aanvaarbaarheid in, swart musikante soos Jonathan Butler, Sipho Gumede en Basil “Mannenberg” Coetzee gevra het om op sy albums te speel. “Oor hul fenomenale talent. En oor ek so baie by hulle kon leer. Soos vandag, het ek net gedoen wat vir my reg was.”


Maar toe verbied die SAUK van sy liedjies en hy kry doodsdreigemente...


Gelukkig is daardie dae verby, want nét Sibongile kan “Thula Baba” met soveel geskiedenis en gevoel sing. 


Die jonger garde op die album sluit in CH2, die kitaarduo wat derde uit bykans 40 deelnemers wêreldwyd geëindig het in ’n kompetisie waarin meegeding is om die gesogte Lee-Ritenour-beurs vir kitaaropleiding in Amerika. CH2 speel die Spaanse flamenca op “Flamenca” –“’n song met ’n club vibe,” sê Coenie. 


In “Heimwee”, daardie klassieke liedjie deur S. Le Roux Marais en J.R.L. van Bruggen, snoer Coenie kragte met Jan Blohm en die kitaarmeester Mauritz Lotz, en hier slaan ’n Tom Waits-klank deur. 


Coenie reken dis “die mooiste lied wat nog ooit in hierdie land geskryf is. Daarby kan niemand ‘Ek is moeg vir die rustelose lewe’ soos Jan Blohm sing nie. Dit gryp jou aan die keel and it shows how beautiful broken can be,” sê hy.

Die Heuwels Fantasties het help skryf en sing aan “Wonder bo wonder”. 


Coenie lag wanneer hy vertel dat hy “dude” genoem is en gehoor het hy “moet chill”.


Hy stel nie doelwitte vir die toekoms nie. Bedags is hy steeds direkteur van ’n bemarkingsmaatskappy in Johannesburg, Woensdae bied hy Kwêla op kykNET regstreeks aan en naweke is hy dikwels in Bloemfontein, een van hul twee huise. Tussen-in tree hy op. 


Maar dalk skryf hy nog daardie roman of laat hy sy lirieke bundel. 


Hy weet wel daar kom ’n kykNET- dokumentêr (nog datumloos) met sy nuwe album as wegspringplek. Dit sal onder meer kyk na sangers met wie hy die afgelope 35 jaar saamgewerk het. 


“Ek word ouer en dis dalk my laaste album, daarom wou ek die beste werk van my loopbaan doen, ” sê Coenie oor Hart van Glas. 


Op sý manier. 


Byna soos ’n camera obscura wat dinge anderkant-om gooi. 








BEELD, 20 November 2011


Coenie de Villiers gooi wal; dit is nie of hy met sy jongste CD die musiekhanddoek ingooi nie.  “As die liewe Vader wil, sal ek graag nog CD’s maak. Maar as hierdie een my laaste is, sal ek ook tevrede wees – so na lê dit my aan die hart en so gelukkig is ek daarmee.”


Hart van glas is ’n eerlike en persoonlike album waarin De Villiers sonder omhaal sing oor hartsgoed soos die uitdagings van ouerskap; ’n huldeblyk vir ’n ou vriend lewer; of die weg van ’n lang verhouding.. “Dit was vir my vroeër moeilik om oor persoonlike goed te sing, maar hoe ouer ek word hoe makliker word dit. Ek was nou op die regte plek daarvoor.”


De Villiers maak geen geheim daarvan dat hy vir die maak van hierdie album ’n vet spaarvark moes slag nie. “Ek is nie by ’n platemaatskappy nie en het die CD self gefinansier.”  ’n Blik op die omslag laat jou deur jou tande fluit, want die naam van die oorsese vervaardiger Jeremy Lubbock val op. Sy naam word verbind aan vele suksesstories soos dié van Michael Jackson, Celine Dion en Quincy Jones. Hy het vir etlike van die snitte op die CD as dirigent opgetree.   

Jaconell Mouton is die regisseur. Daar is ook die begeleiding van die Amerikaanse saxofoonspeler Dave Coz op die snit Die lied van hout.


Verder span hy saam met plaaslike kunstenaars soos sy ou sangmaat Amanda Strydom, wat saam met Sibongile Khumalo die liedjie Thula sing. Jan Blohm en die kitaarvirtuoos Mauritz Lotz se talente word ingespan vir Heimwee en vir Wonder bo wonder is dit die elektro-popgroep Die Heuwels Fantasties.Nog is dit het einde niet, want ’n volle span strykers het ook hul deel gedoen. “Ek geniet dit om saam met ander kunstenaars te werk, want ’n mens leer so baie.”

Dit beteken nie dat hy nie bewus was van meer as ’n swerm vlinders voordat hulle met die opname begin het nie. “Ek het ’n paniekaanval in die toilet gehad. Regtig! Lubbock het later vir my gesê ek sal een of ander tyd móét uitkom!”  De Villiers erken dit is die tegniese perfeksionis in hom wat soms die oorhand kry. “Lubbock het vir my raad gegee wat ek nooit sal vergeet nie. Hy het gesê: ‘Forget about the notes. Just tell the story.’ ” 


De Villiers het Die Heuwels ontmoet toe hy met hulle op die TV-program Kwêla gesels het. Hy is steeds aanbieder van dié program op kykNET. “Na die tyd het hulle vir my gesê: ‘Hei, dude, ons moet bietjie ’n collab doen.”. De Villiers sê hy kon aanvanklik nie sy ore glo nie, maar dit was vir hom baie lekker om die liedjie saam met hulle op te neem. 


Vir Lucas het hy geskryf vir sy vriend, die liedjieskrywer en sanger Lucas Maree, wat vroeër vanjaar oorlede is. “Sy dood was vir my ’n swaar slag. Mense het nog nie besef watter goeie liedjieskrywer hy was nie omdat hy so ’n groot persoonlikheid gehad het. Maar hulle sal nog.”


De Villiers lag onthuts as jy hom vra hoe lank dit geneem het om die skryfwerk vir die album af te handel. “Is dit ’n amptelike vraag?”


Hy bespreek die ateljee en ander kunstenaars voordat hy homself afsonder vir ’n week van intensiewe skryfwerk. “Dit is absolute hel op aarde, want dan is skryf al wat ek doen. Ek kom net so nou en dan op vir asem.”  Maar, vermoed jy, dit is ’n kwessie van die opgeleide joernalis wat hy is wat op sy kreatiefste is wanneer daar ’n spertyd is wat dreigend op die einder wag. “Ek dink ook liedjies lê en broei in die onderbewussyn.” Vir ’n mooi stuk skryfwerk het hy ’n swak plek. “Het jy al ooit iets so mooi en eenvoudig gehoor soos ‘weerloos en eensaam soos ’n vrou voor ’n spieël’?” Op dieselfde manier het die woorde van Die lied vir hout by hom kom aanklop. Hy het Johan Myburg, Beeld se kunsredakteur, se woorde in ’n tydskrif raakgelees. “Dit was net vir my die heel mooiste konsep – dat hout sy eie lied het. Dit het gevra om ’n liedjie te word.”


Op 55 bestuur De Villiers ook nog ’n bemarkingsonderneming. “Musiek is seker nie meer iets wat ek hóéf te doen nie, nee. Maar ek dink as ’n mens die gawe het, is dit iets wat jy tog op ’n manier moet doen. 


“Dit sal net uit jou uitborrel.”








 

 

 


 
 

Calender

There are currently no events to display.

Who's Online

We have 19 guests online

Your thoughts...

Who's your favourite artist
 
All rights reserved PC 2012  |  Jaconell Mouton  |  Designed by Design4u